Olieverf gee jou tyd om te dink – miskien meer as enige ander medium.  Dit laat jou toe om te besin en die prentvlak op jou eie tyd te ontwikkel. Met sy diep, glinsterende oppervlak het olieverf hom deur die eeue heen as die mees gesogte medium bewys.

Blomstudies, byvoorbeeld, is nie net 'n gunsteling van kunstenaars nie, maar bring ook vreugde in baie mense se lewens.

Die vreugde om in die tuin te stap en bewus te raak van die kleure en geure om jou dien as voorspel tot die skep van iets waarvan jy self deel kan word. Die skepping skep immers voortdurend – deur my, deur jou en deur ons volle bewustheid daarvan.

Stillewes is 'n verdere ontwikkeling in die skeppingsproses, waardeur jy as kunstenaar die aanskouer kan nooi om te kom kyk na hoe jy dit ervaar en deel daarvan te word.

Die warm kleure van landskappe en die vuurrooi wat die horison so onbeskroomd optower, is 'n kleurervaring wat ons hele wese en al ons sinne betrek.